Carina Bruwer durf ’n oopwaterswem oor Walkerbaai aan ten bate van die Tribuo-fonds en ter ondersteuning van die uitvoerende kunste

Tribuo Fund

Die Kaapstadse musikant, vermaaklikheidsbedryf-entrepreneur en moeder van drie Carina Bruwer gaan probeer om 21 km oor Walkerbaai, vanaf Gansbaai tot Hermanus, te swem om fondse in te samel vir die Tribuo-fonds – ’n privaat, niewinsgewende fonds wat gebore is uit die noodsaak om finansiële bystand te verleen aan Suid-Afrikaanse vryskutkunstenaars en lede van verwante bedrywe wat hul bronne van inkomste as gevolg van Covid-19-inperkingsmaatreëls verloor het. Tribuo, Latyns vir “ek gee”, bied ’n geleentheid om in uitstaande Suid-Afrikaanse kunstenaars en hul loopbane te belê. 

Carina staan by om dié baie uitdagende ultramarathonswem Vrydag 12 Maart aan te durf, indien die weerstoestande dit toelaat, duik sy in. Sy is ’n ervare oopwaterswemmer wat reeds, onder meer, die Engelse Kanaal, Straat van Gibraltar, Valsbaai en Nelson Mandela-baai op haar kerfstok het. Indien sy suksesvol is, sal Carina die eerste persoon wees wat dit regkry om van Hermanus tot Gansbaai te swem – ’n uitdaging waarvoor sy lankal lus is. “Walkerbaai sit al jare lank in my agterkop”, sê Bruwer. “Dit is so ’n beeldskone en geografies fassinerende baai en wat oopwaterswempogings betref, is dit nog ongekarteerde waters.”  

Benewens die geweldige lang afstand, sal Bruwer heel moontlik ook wisselende watertemperature, seestrome en onstuimige water die hoof moet bied terwyl sy weet sy swem oor ’n baai wat bekend is vir die groot seediere wat daar tuis is. “Ek verwag nie dat hierdie ’n maklike swem gaan wees nie. Met al die swembad- en strandsluitings gedurende die afgelope maande was dit moeilik om voor te berei. Daar was ook geen verdienmoontlikhede binne die uitvoerende kunste nie – die bedryf waarbinne ek 20 jaar lank so graag gewerk het. Dit was werklik ’n geval van sink of swem,” sê Carina, wat al dwarsoor die wêreld met die SAMA-bekroonde groep Sterling EQ asook ander kunstenaars opgetree het. 

Met haar swemuitdagings het Carina al byna R700 000 en meer as R2 miljoen in mediawaarde vir liefdadigheidsorganisasies gedurende die afgelope paar jaar ingesamel. Dié keer vat sy hande met die Tribuo-fonds om lede van die uitvoerendekunstebedryf te ondersteun wat weens die pandemie in die nood is. “Terwyl dit vir my buitengewoon moeilik was om myself nuut te verbeel en maniere te vind om vir my gesin te sorg in hierdie tyd, was ek pynlik bewus van al die kunstenaars en tegniese ondersteuningspersoneel wat staatmaak op optredes om finansieel te oorleef en nie daarin kon slaag om alternatiewe inkomstebronne te vind nie. Ons bedryf is op sy knieë, met min hoop op vinnige herstel wanneer die inperkings opgehef word en daar was min tot geen finansiële ondersteuning vir kunstenaars van regeringskant. Geliefde verhoogkunstenaars en die tegniese spanne wat gehelp het om duisende spesiale ervarings te skep, moet nou soms hul besittings verkoop net om in basiese behoeftes te kan voorsien,” sê Carina. 

In ’n onlangse Instagramplasing het Carina geskryf: “Wanneer kunstenaars nie meer hul kuns kan beoefen nie, is dit nie net hul inkomste wat krimp nie – hulle word ook van uitdrukkingsvermoë en betekenisvolle werk beroof. Vir baie is kuns hul moedertaal en dikwels hul hele kosmos. Dit is nie moontlik om emosie van kuns te skei nie, want dit is van nature spiritueel.” Sy sê: “Hierdie oorlewingstryd van kunstenaars het my geïnspireer om hierdie uitdaging aan te pak. Ek het nodig om te weet ek doen iets om te help en ek wil hê kunstenaars wat tans in ’n bitter donker plek is, moet weet dat iemand hulle sien en hul pyn voel.” 

Cornelia Faasen, een van die stigterslede van die Tribuo-fonds en die uitvoerende hoof van NATi, is dit roerend met Carina eens: “Kunstenaars is van die groepe wie se loopbane onmiddellik en direk deur die Covid-19-inperkings getref is. Kunstenaars het selde ’n veiligheidsnet, spaargeld, werkloosheidsversekering of pensioen. Hulle werk van een produksie of geleentheid na die volgende. Vir baie van hulle is die kunstefeeste hul primêre en standhoudendste bron van inkomste. Dis ’n geweldig moeilike tyd vir die uitvoerendekunstebedryf. Ons kunstenaars het hulp nodig om kop bo water te hou. Daarom maak dié vennootskap met Carina vir ons absoluut sin.”   

Carina en die Walker Bay-span monitor die weer al sedert Dinsdag 2 Maart, end it blyk of daar Vrydag ‘n moontlike venster sal wees. Sy benodig ’n relatiewe kalm see, ligte of geen wind en watertemperatuur van ten minste 18 grade. Sy sal ondersteun word deur ’n span vrywilligers van Walker Bay Adventures en Blade Charters en haar begeleidingsboot sal met ’n haaiskild toegerus wees. Die bemanning sal gedurende Carina se swem op die uitkyk vir haaie wees. Om die 21 km af te lê kan enige iets van 5 tot 8 uur lank neem, afhangende van seestrome en ander toestande. Sy beplan om vanaf Hermanus se Ou Hawe tot Gansbaai se hawe te swem, maar hierdie besonderhede sal dalk noodgedwonge verander as gevolg van weerstoestande. 

Carina se poging sal regstreeks gestroom word via die Carina Bruwer Facebook blad. Die Tribuo-fonds sal die administrasie van alle borgskappe en skenkings behartig. Korporatiewe borge kan Nita Cronjé kontak by: info@tribuo.co.za.

Die Tribuo-fonds is gestig in samewerking met Karen Meiring (kykNET), Cornelia Faasen (NATi) en die Feesteforum (Aardklop, KKNK, Innibos, Suidoosterfees, Vrystaatfees en die Toyota US Woordfees) om vryskutkunstenaars te ondersteun. Die fonds is afhanklik van die finansiële steun van skenkers wat die kunstebedryf deur hierdie moeilike tyd wil help. Bydraes kan deur privaat persone, korporatiewe instansies of filantropiese skenkers gemaak word en ’n 18A-belastingsertifikaat is op aanvraag beskikbaar. Bydraes kan anoniem gemaak word of skenkers kan erkenning ontvang as ’n donateur van die fonds.

Tribuo Fund

In supporting the Tribuo fund you are making a difference in the performing arts industry of South Africa.

Subscribe To Our newsletter